From: "eliset@mweb.co.za" <eliset@mweb.co.za>
Date: Wed, 07 Mar 2007 14:48:12 +0200
To: <4_babich@fishingowl.co.za>
Subject: RE: Sunwa river lodge

Man pomp glo rioolafval in Vaalrivier - Elise Tempelhoff
Die eienaar van ’n luukse vakansieoord stroomaf van Parys is na bewering op heterdaad betrap terwyl hy rioolafval in die Vaalrivier in die Vredefortkoepel gepomp het.
Mnr. Johannes Abraham Smit (54) van Sunwa River Lodge het gister in die hof in Vredefort verskyn nadat hy hom verlede Woensdag aan natuurbewaringsbeamptes van die Vrystaat en Noordwes oorgegee het. Hy is vroeër glo herhaaldelik oor sy aktiwiteite in die Vredefortkoepel gewaarsku.


Hy is voorlopig aangekla ingevolge die Wet op Wêrelderfenisgebiede, maar sal later ook ingevolge onder meer die Na­sionale Waterwet en die Wet op Omgewingsbestuur aangekla word.


Smit word ook daarvan beskuldig dat hy ’n landingstrook in die Vredefortkoepel gebou het sonder om ’n omgewingsimpakstudie te laat doen. Ander beweringe wat ondersoek word, is dat hy só laag oor sy bure se plase gevlieg het dat van hul wild beseer en van kant gemaak moes word. Van sy bure het glo ’n waterbok en ’n kameelperd verloor.


Hy is nie gister gevra om te pleit nie en moet weer op 23 April in die hof verskyn. Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat.


Volgens mnr. Coenie Erasmus, omgewingsbestuurder van die Vrystaatse departement van toerisme, omgewingsbewaring en ekonomiese sake, is hy baie bekommerd oor die Vredefortkoepel omdat dié gebied nog nie deur Suid-Afrika tot Wêreld-erfenisgebied geproklameer is nie, hoewel dit reeds in Julie 2005 as Wêrelderfenisgebied gelys is.


Omdat die gebied dus nie tans ingevolge die Wet op Wêrelderfenisgebiede beskerm word nie, word dit volgens Erasmus “geplunder” en “oorontgin”: “Mense kap bome af en dra selfs klippe weg.”


) Buiten die Groter St. Lucia-vleilandpark is nie een van Suid-Afrika se ander vyf gelyste Wêrelderfenisgebiede – die Sterkfonteingrotte, Mapungubwe, die Kaapse blommeryk, Robbeneiland of die Ukhlamba/Drakensbergreservaat – geproklameer nie.


kind regards

Elise Tempelhoff


Webmaster replies: many thanks to Elise Templethof for permission from the Beeld to use this information. I suggest that all anglers boycott this resort to show their utter disgust at this heinous act